Die Stem Van Suid Afrika - Asaf Koor Turffontein

Published 2020-08-24
In 1938 het ons volk die Groot Trek herdenk met 'n Voortrekker-Eeufees (1838-1938) d.m.v. 'n Simboliese Ossewa-Trek, wat op 8 Augustus 1938 in Kaapstad afgeskop het. Daar was landwyd fees gevier met talle funksies en simboliese trekke, en almal het bymekaar gekom vir die "grand finale" op 16 Desember 1938 op die gronde van die "komende" Voortrekker Monument in Pretoria. Die Transvaalse hooftrek (met die waens “Andries Pretorius” en “Hendrik Potgieter”) was gelei deur M.C. van Schoor, en het op 5 November 1938 begin. Op 2 Desember 1938 was 8000 mense teenwoordig by die Roodepoort-vieringe, en na die optog deur die dorp, het die waens op die sportterrein tot stilstand gekom. Later die middag is die hele geselskap na Doornkop, waar die Asaf-koor onder leiding van Mnr. J.B.Z. Keet vir die skare opgetree het.

Om die hele gebeurtenis te herdenk het die Gallo Platemaatskappy ook vier spesiale 78-spoedplate uitgereik op sy Singer-etiket, maar anders as die gewone groen kleur, is diè vier op 'n goue "Voortrekker-Eeufees" etiket uitgegee. Drie van die vier plate was gedoen deur David de Lange met onderskeidelik die Welgens Suikerbossie Orkes, die Singer Voortrekker Orkes en Lourens Se Outydse Orkes. Die eer het die Asaf Koor van Turffontein o.l.v. Mnr. Keet te beurt geval om die vierde plaat op te neem, en hulle het spesiaal 3 snitte daarvoor opgeneem... Die Stem Van Suid-Afrika, Die Transvaalse Volkslied en Afrikaners Landgenote. Die vier besonderse plate is van ons land se grootste musikale Africana! Die plate is wel ook op die gewone groen Gallotone-etiket uitgegee.

Die Asaf-koor is gestig op 5 Julie 1920 in Melville, Johannesburg, na reuse aanvoerwerk deur S.J. "Oom Fanie" Buys en sy seun Chris Buys. Die eerste dirigent was Mnr. H.A. Delen, destyds die orrelis van die Irene-kerk. Hy is kort daarna in 1921 vervang deur Johan Bernard Zulch Keet, destyds verbonde aan die tegniese personeel van die Hoof Poskantoor in Johannesburg. 'n Man wat behoorlik al sy vrye tyd gewy het aan die bevordering van Afrikaanse musiek d.m.v. die agt Asaf-kore. Die Turffontein-koor is amptelik in 1924 begin. Hy was vir 42 jaar die hoof-dirigent, en is in 1963 opgevolg deur Danie van den Heever.

All Comments (9)